Cence Mega Week Die Burger

Landbou is Cool – Cence in aksie by Agri Mega Week

Die Burger: 19 September 2013 deur Ramond Willemse

BREDASDORP. – Landbou is cool.

Dis meer as net om op ’n plaas te woon en te boer, was hoërskoolleerders gister hier by ’n landboujeugkonferensie dit eens.

Meer as honderd leerders van vier skole in die Overberg-distrik het aan die konferensie met die tema “Landbou is cool” hier by die Agri Mega Week deelgeneem.

“Ek het nooit geweet daar is so baie loopbaangeleenthede in die landboubedryf nie. Ek het gedink dis net om op ’n plaas te boer,” het GeorgNiehaus, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Overberg op Caledon, gesê.

“Die konferensie het my weer laat dink om dalk ’n loopbaan in die landbou te oorweeg,” het hy bygevoeg.  Die konferensie het ten doel gehad om leerders in te lig oor wat landbou behels en watter landbougeleenthede daar vir hulle is.

Joyene Isaacs, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, het ook die leerders aangemoedig omtot die landboubedryf toe te tree.

“Die belangrikste globale kwessie is voedselsekerheid. Julle, as jong mense, speel ’n belangrike rol in die oplossing,” het sy gesê.

Twee werksessies is ook aan die leerders gebied om hulle touwys te maak hoe om hul eie kompos en groentetuin te maak.

Johan Marx, organiseerder van die konferensie, het gesê hulle wil jong mense weer passievol oor die landbou maak.  “Ons wil hul beskouing van landbou verander en hulle wys dat daar ’n toekoms in landbou is. Met die werksessies wil ons hulle ook help om ’n entrepreneur te word en ’n inkomste hieruit te maak.”

Stephanie Eksteen, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Swellendam, het gesê sy gaan nooit weer haar badwater mors nie.  “Ek is lief vir tuinmaak. Ek het nooit geweet dat jy jou tuin met badwater kan natlei nie.”  Dié tiener het gesê die konferensie het haar geprikkel om dalk tot die bedryf toe te tree. “Ek weet my pa sal in sy skik wees,” het sy gesê.

Die organiseerders van die Agri Mega Week, wat in sy 21ste jaargang is, het gesê die landbou-ekspo is nie net vir kommersiële boere, kleinboere en plaaswerkers nie, maar is ook ’n feestelike bymekaarkomplek vir jong en ouer besoekers.

Die duisende besoekers kan uitsien na viertrekvoertuie, demonstrasies, verskeie diere-skoue en tentoonstellings van nuwe masjinerie in boerderypraktyke.

Toegang kos R50 vir volwassenes, R30 vir pensioentrekkers en R10 vir leerders.